
Wat jy MOET WEET! Ken jou probleem
Preek Psalms 130 Heidelbergse Kategismus 1 - Woorde uit sy Woning
Wat jy MOET WEET! Ken jou probleem ... Uit Diep van Donker Nagte roep ek o Here hoor! Psalm 130 HK 1 Vr 2 Psalm 130 Lees Psalm 130, HK Sondag 1 Heidelbergse Kategismus Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe? Antwoord: Drie dinge. Tema: Onmisbare kennis Teks: 130:3,4 As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word! Niemand weet presies hoekom hierdie 15 Psalms bedevaartsliedere genoem word nie. Dis nou Psalms 120 tot 134. Vir my is die aantreklikste verklaring die volgende: Dit was die Psalms wat die volk gesing het wanneer hulle na Jerusalem toe opgetrek het vir die jaarlikse fees, wanneer hulle eers afsonderlik, maar later in groepe wat al groter geword het, gesing het: Ek was verheug toe die geluid weerklink het bo die ruimtes uit: kom laat ons optrek hiervandaan om na die Heer se huis te gaan! Ons voorgeslagte het iets van hierdie ervaring gehad. Dit is al aan my vertel hoe driemaandeliks met nagmaal die Doppers van Sannieshof se gemeente so ‘n bedevaart onderneem het. Donderdagoggend vroeg het dit by die Schuttes op Tweebosch begin. Dan is die ossewaens ingespan. Daarna sou die Buyse by hulle aansluit en dan nog ‘n entjie verder, nog ‘n Buys-wa. Verder op met die Hartsrivier het die Coetzees by hulle aangesluit totdat die stoet uiteindelik die kerk in die namiddag bereik het. En oral langs die pad het die Psalms weerklink. Miskien het die broeders en susters van die Matlabas gemeente ook soiets vroeër geken. Een sou insit met Uit diep van donker nagte totdat almal uiteindelik saamgesing met: dan skyn ‘n soete vrede: gans Israel word vry van ongeregtighede. Dis ‘n goeie Psalm om by nagmaal geleenthede te sing om ons voor te berei om aan die Here se tafel aan te sit. In Psalm 130 roep ons die HERE uit die diepte van ons sonde aan. In Psalm 130 hoor ons dat daar vergifnis is ... By Hom, deur sy Seun Jesus Christus, is daar vergifnis. In Psalm 130 leer ek om uit dankbaarheid nou in die vrees van die HERE te leef. Dis die drie dinge wat ek moet beleef om getroos te mag lewe en eendag getroos te mag sterwe. Almal ervaar die diep waters een of ander tyd in hulle lewe. Sommige ervaar dit miskien deur ekonomiese rampspoed. Sommige het al die dieptes van armoede beleef. Sommige beleef die dieptes van smart, wanneer verlies se bare en golwe van oor ons spoel, die een na ander. Ander sink weer in die dieptes van depressie, waar daar bo geen lig meer is nie en die pad ondertoe al donkerder word. Maar weet u, geliefdes, daar is geen donker diepte as die diepte van ons sondebestaan nie ... Niks verskrikliker nie! Daar is geen einde aan daardie diepte nie. Die uitsig is donkerder as die dik donkerte van die negende plaag van Egipteland ... so dik jy kan dit met jou hand gryp. Af, af altyd net verder af tot in die verskriklike duisternis, duisternis van algehele Godverlatenheid. Die bande en strikke van die dood, die angste van die hel het my laat bewe. Wie sal dan voor God staande kan bly? Niemand sal kan staande bly nie. Nie ek nie en ook u nie. Daarom roep ons. Ons roep uit dieptes gans verlore ... By God is daar vergifnis... position: 656