top of page

Koop 'n kaartjie uit die hel! Omkoopgeld vir jou siel?

Preek Psalms 49 Heidelbergse Kategismus 6 - Woorde uit sy Woning

Koop 'n kaartjie uit die hel! Betaal! Betaal! Vaal Perd is voor die deur! Omkoopgeld vir jou siel? Met ‘n omkoopgeldjie kan jy nogal ver kom. Trouens, in baie gevalle kom jy nêrens daarsonder nie. As jy geld het, kan jy byna enigiets bereik, enige transaksie deurhak en daar is manne wat inderdaad op die wyse ook ongelooflik baie bereik. Manne wat sterk staan, manne van naam. Psalm 49 gooi ‘n emmer koue water uit op die manne van naam en op die vertroue wat hulle op hulle vermoë het. Daar is skewe en krom dinge wat die stomme geld nie reg kan maak nie. Miskien, as jy geld het, kan jy dalk met ‘n goeie mediese fonds die onafwendbare uitstel. Jy kan dalk, as jy goeie doktors kan bekostig, die poort van die doderyk ‘n tyd lank ontwyk. As jy geld het, soos die Guptas, dan kan jy ‘n pantserkar bekostig om jou teen die woedende gepeupel te beskerm. As jy geld het, kan jy heel dag, eet en drink, elke dag partytjie hou, al jou dae verdoof met drank en dwelms. As jy die vermoë het kan jy die pragtigste huise bou wonings wat van geslag tot geslag bly staan, jy kan empaaiers tot stand bring om jou nagedagtenis in stand te hou. Lughawens en Lande kan na jou vernoem word. Maar op die ou einde staan die skuldeiser voor almal se deur maar op die ou einde haal die ruiter op die vaal perd jou ook in. Ons dink hier aan die bekende refrein van die Prediker: alles tevergeefs. Soos ‘n goeie herder sorg die dood dat almal by die hekke van Hades ingaan. Al die skapies moet uiteindelik deur daardie hek, van mooiste stoet ram tot die lelikste brandsiek ooi. Of hulle wil of nie of hulle koers kies of nie of hulle uitspring of nie ... in moet hulle in. Die dae van onheil kom wanneer jy skielik besef dat jy in die put van ellende is ... dat jy deur jou eie omwandeling hier op aarde, deur die paaie wat jou eie voete gekies het, deur jou eie sondige optrede jouself in die skuld gedompel het. Jy word vasgevang deur die ongeregtighede rondom jou eie hakskene Ons lees in Spreuke 5: Elke mens se weë is voor die oë van die Here, en die Here weeg al sy gange. Die mens eie ongeregtighede vang hom, en in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou (Spreuke 5:21,22). Betaal, betaal, betaal. Daar is geen uitkomkans nie. Jy kan nie jou lewe of ‘n ander se siel van die dood red deur te probeer betaal nie. Die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend. Eenvoudig gestel: Met geld kan jy nie jouself of jou broer van die dood red nie. Jy kan nie die ewige lewe koop nie. Jy kan ongelukkig nie ‘n kaartjie uit die hel uit koop nie. Die Here Jesus herhaal hierdie woorde in Matteus 16, wanneer Hy Psalm 49 opsom. Wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, vra Hy, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? (Mat 16:26) ... Bron: Preek Psalm 49 HK 5 Vr 12 15 & HK 6 Vr 16 17 Koop 'n kaartjie uit die hel! Reeks: Troos uit die Psalms (nr 8 ) Ontbeer u 'n aanddiens/Kategismusprediking? Hierdie reekse kan met vrug aangewend word deur 'n gelowige of groep gelowiges. Musiek gebruik in hierdie video: Sola Sacra Scriptura Potchefstroomse Mannekoor Olv Babs Brouwer babsbrouwer@mweb.co.za sel:083 306 4525 Psalm 65 Glorieryke Psalms www.ico.org.za info@ico.org.za Tel: 0824914965/ 012 332 0336 Orrelis: Harry Jonkers 

274786248_527254085490123_3841177742869468131_n.jpeg

Wie is ons?

Ds Gustav Opperman is ‘n emeritus dominee, tot einde Februarie 2022 nog verbonde aan die Gereformeerde Kerk Matlabas, GK Matlabas. Saam sit ds Gustav en Ina, sy eggenote, hulle roeping voort...

Lees meer

 

Teken in op ons nuusbrief

Dankie vir die ondersteuning.

  • Facebook
  • Telegram-icon-with-black-color-on-transparent-background-PNG
  • Whatsapp
  • YouTube
bottom of page