top of page

Prozac, my enigste troos in lewe en sterwe?

Preek Psalms 23 Heidelbergse Kategismus 1 - Woorde uit sy Woning

Prozac my enigste troos in lewe en sterwe? Verlede jaar is een van Hollywood se bekendste sterre oorlede, Carrie Fischer, wat ‘n hoofrol in film Star Wars vertolk het. Na haar dood is sy veras. Die as is toe volgens haar wens ter ruste gelê. Wat was Carrie Fischer se wens? Haar as moes in ‘n kruik gebêre word ... ‘n kruik in die vorm van ‘n groot pil, spesifiek die anti-depressant, Prozac. Haar wens was dat haar as in ‘n Prozac vorm kruik weggebêre word. Hiervolgens kan ons aflei dat Carrie Fischer ten minste ‘n eerlike vrou was. In haar geval was Prozac haar enigste troos ... haar enigste troos in lewe en ook in sterwe. ‘n Mens wonder hoe ander mense se ashouers sou lyk as hulle dieselfde roete sou volg? Die een se as sal miskien in ‘n leë whiskeybottel tuis wees ... terwyl ‘n sigaretdosie vir ander goed genoeg sal wees. So die vraag is: Wat of Wie is u enigste troos in lewe en in sterwe. Vind u u troos in die drie-enige God van Sondag een: Vind u u troos in God, die Seun wat u van alle slawerny losgeloop het ... die Here Jesus Christus Vind u u troos in God, die Vader wat letterlik elke aspek van my lewe in sy Vaderhand vashou tot die hare van my hoof? Vind u u troos in God, die Heilige Gees wat hierdie geloof in my gewek het? In Wat of Wie is u enigste troos? Is dit in Jesus Christus? Is dit in die Vader van alle vertroosting? Is dit in die Ander Trooster, wat ons aan Vader en Seun verbind? Met ander Woorde lê u troos by Jahwe, die HERE, dieselfde God wat Dawid in Psalm 23 bely het? Die HERE is my herder. Nou, word Ps. 23 ook soms “die piekniek van die Evangelie” genoem ... Die Evangelie word in die psalm met ‘n piekniek vergelyk. As ons aan ‘n piekniek dink, dan dink ons aan daardie luilekker kuieruurtjies in die skaduwee van ‘n wilgerboom op die groen gras daarlangs die helder waterstroom. Sieltjie sonder sorg. Die toppunt van menslike saligheid. En tog vervaag hierdie die piekniek vergelyking, wanneer ons Psalm 23 weer lees ... en weer lees, soos ons dit behoort te lees. In Psalm 23 is daar is ander woorde en beelde wat glad nie so sorgvry is nie. Daar is die dal van doodskaduwee. Daar is die onheil ... en daar is die teëstanders. As die Evangelie ons ‘n piekniek belowe, dan is hier ‘n hele paar begrippe wat nie by ‘n piekniek tuishoort nie. Nee, dan staan die psalm vierkantig in ons daaglikse oorlewingstryd. Psalm 23 ken die hartseer en die trane. Psalm 23 ken ook die dowwe geplof van die kluite op die kis. Óf die HERE is my herder, óf die dood is my herder ... maar skaap sal ek bly. Daar’s is geen genade sonder hierdie besef nie. Ook geen troos nie. Ek is die goeie herder, sê die Here Jesus in Johannes 10. Ek ken my eie en Ek word deur my eie geken (10:14). My skape luister na my stem, en Ek ken hulle en hulle volg my Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Ek en die Vader is een (Johannes 10:27 ev). Is dit nie vir u ook troosvol nie, gemeente? Ek behoort met liggaam en siel ... nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus. Hy het sy skape gekoop. Sy eie kosbare bloed was die betaalmiddel. Twee keer in die gedeelte wat ons uit Johannes 10 aangehaal het, twee keer word dit genoem: die goeie herder lê sy lewe af vir die skape (Johannes 10:11 en 15). Die Herder is self soos ‘n skaap geslag. Daarom ook dat ons Hom in die boek Openbaring weer ontmoet as die geslagte Lam ... Die Here Jesus Christus my getroue Saligmaker staan in die hemelse troonsaal as die Lam, die geslagte Lam. Dis Openbaring vier. In Openbaring sewe lees ons dat die Lam die verloste skare soos ‘n Herder sal laat wei en self na lewende waterstrome sal lei (Openbaring 7:17). Die Herder-Koning is daar tussen sy skape. Hy is met hulle selfs in die dal van doodskaduwee ... in donker dieptes en doodsgevare. Hulle hoef geen onheil te vrees nie, want Hy is met hulle. Sy Gees, sy Heilige Gees is daar ... altyd daar by hulle. Wees nie bevrees nie Hy het jou by jou naam geroep, jy is syne! Dawid het Israel se ongeloof geken, hoe hulle teen God gespreek het. Hulle het gesê: sou God ‘n tafel kon dek in die woestyn? (Ps. 78:19) So vra die volk in Psalm 78. Sou God in staat wees om hulle onder die moeilikste omstandighede te gee ... dit wat hulle nodig het? Sou die seun van God in staat wees om water in wyn te verander? Dis wat ons ook vra ... so dikwels vra op ons reis deur die lewe: Is God in staat om ons onder hierdie of daardie omstandighede te help? Is Hy werklik in staat om ons nou te help ... Is Hy werklik in staat om ons eendag deur die Doodsjordaan te lei? Sal Hy werklik in staat wees om ons by te staan ... daar by die oop graf? Sal Hy werklik in staat wees om ons by te staan ... binne en deur die geopende graf!
274786248_527254085490123_3841177742869468131_n.jpeg

Wie is ons?

Ds Gustav Opperman is ‘n emeritus dominee, tot einde Februarie 2022 nog verbonde aan die Gereformeerde Kerk Matlabas, GK Matlabas. Saam sit ds Gustav en Ina, sy eggenote, hulle roeping voort...

Lees meer

 

Teken in op ons nuusbrief

Dankie vir die ondersteuning.

  • Facebook
  • Telegram-icon-with-black-color-on-transparent-background-PNG
  • Whatsapp
  • YouTube
bottom of page