top of page

Straf volg op sonde. God sal kwaaddoeners skuldig verklaar.
Preek Psalms 5 Heidelbergse Kategismus 4 - Woorde uit sy Woning
Straf volg op sonde. God het nie behae in goddeloosheid nie. Die kwaaddoener en die werkers van ongeregtigheid, die leuensprekers en die opstandiges sal skuldig verklaar word. Maar U seen die regverdige en omring hom met welbehae soos 'n skild ... Bron: Psalm 5 Sesde video uit Psalmreeks Heidelbergse Kategismus Sondag 4 Vr 9,10 In Sondag 4 maak ons kennis met die verskriklike werklikheid van die hel Hier praat ons belydenis van God se verskriklike toorn, sy regverdige oordeel ... ‘n oordeel wat onafwendbaar afstuur op sy tydelike en ewige straf ... Sy tydelike straf ..., want die mensdom ervaar nou reeds dit wat hulle eendag ten volle sal ervaar: die angste van die hel. Hierdie straf geld vir almal wat onder die vervloeking van die wet staan ... en dit sluit elke onwedergebore mens in. ‘n Bekende puriteinse prediker uit ‘n vorige eeu, het die mens se uiters benarde posisie soos volg beskryf. Die mens, het hy gepreek, elke mens is soos ‘n spinnekop wat aan ‘n draadjie hang ... Hy of sy hang bokant ‘n gapende afgrond. Hy hang bokant die put van die hel, bokant die ewige vuur bokant die oond van wraak, wat vir die duiwel en sy engele voorberei is. Daar waar die wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie (Markus 9:42). Die mens se spinnekop lewetjie hang letterlik aan ‘n draadjie. Elke dag, elke oomblik. Enige tyd, enige oomblik kan daardie draadjie breek. God hou daardie draadjie vas. My spinnekop bestaan is in sy hande. Al wat tussen my en daardie gapende afgrond kan intree, is Jesus Christus. die genade van Jesus Christus. Die waarheid hiervan word in Psalm 5 bevestig. In die tekste wat saam met ons kategismus afdelings gegee word, word Psalm 5 aangegee ter stawing van hierdie verskriklike waarheid. Die wat skuldig verklaar is , sal nie by God vertoef nie. Die wat wederstrewig was, die wetsoortreders, die kwaaddoeners, die leuensprekers, manne en vroue van bloed en bedrog, die onsinniges, dis die arrogante minagters van God Hulle sal nie voor God se oë standhou nie. Daar hang die spinnekoppe bo die afgrond, elke mens in sonde ontvang en gebore en geneig tot alle kwaad ... Daar hang ons. Almal sondaars in die hande van ‘n toornige God. Daar het Dawid ook gehang. Dit het ons verlede week geleer toe ons Psalm 51 behandel het. Nou is dit nogal snaaks dat ons in die opskrif van Psalm 5 lees dat hierdie ‘n psalm van Dawid was. Was die groot koning Dawid nie maar self ‘n spinnekop mens nie? Hy was. Lees ons Psalm 5 weer en weer soos ons met die Psalms behoort te doen, dan besef ons dat hierdie Psalm, die woorde van die Dawidiese Koning bevat ... Dis die woorde God se Gesalfde ... die Gesalfde van Psalm twee. Ons het hier ‘n gebed van Christus. Dan besef ons dat hierdie Psalm een van die gebede was wat Jesus in die oggend aan sy Vader voorgelê het. Een van daardie oggendgebede waarvan ons so dikwels in die evangelies lees: vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en Hy het uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en daar gebid (Markus 1:35). In die môre, Here, sal U my stem hoor, in die môre sal ek dit aan U voorlê Ons sien die Digter kom voorbereid ... voorbereid om sy offer op die altaar neer te lê. Sy gebed is nie ‘n spontane opwelling op daardie oomblik nie. Dis elke keer ‘n hartgrondige gebed. Soms is sy gemoed so in beroering dat Hy nie woorde het nie. Soms het Hy net trane. Hy kom elke oggend. Elke dag wag Hy op die verhoring van sy gebed. In die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag ... Die brief aan die Hebreërs het die Christus se gebedslewe so beskryf: Hy het in die dae van sy vlees gebede en smekinge aan sy Vader geoffer met sterk geroep en trane aan sy Vader geoffer (Hebreërs 5:7). Gebede en smekinge. Die Dawidiese Koning se gebed, vra om die voltrekking van God se raadsplan, vra dat die moederbelofte in Génesis 3 vers 15 voltrek sal word, die vermorseling van die Slang se kop die vernietiging van haar saad Sy gebed vra om die vervulling van Psalm een ... position: 641
bottom of page